Sondag 15 November 2015

Klasgee - ja graag!

Na my inskrywing van 10 November  het ek besef dat die hele 2014 in beslag geneem was deur die Kwiltonderwys Akkrediteringskursus  van die Suid-Afrikaanse Kwiltersgilde wat ek gedoen het. Ek het die werkstukke en die navorsing wat daarvoor nodig was baie geniet en dit het my tyd en gedagtes goed besig gehou, tot so ‘n mate dat dit eintlik al was wat ek die hele jaar gedoen het. En nou kan ek met ‘n sertifikaat spog wat bevestig dat ek deur die Nasionale Kwiltersgilde geakkrediteer is as kwiltdosent. Ek het dit nog altyd geniet om ander kwilters te help om hulle potensiaal te ontsluit en nuwe tegnieke te leer en nou kan ek dit met vrymoedigheid doen.

Ek is beskikbaar om klas te gee waar ek ook al genooi word. Ek bied tans hoofsaaklik werkswinkels oor kreatiewe masjienappliekwerk aan, asook die benutting van jou naaldwerkmasjien om jou kwilte te versier. 

Voorbeelde van my klasse:








Kontak my gerus as jy in 'n werkswinkel belang stel: kreativa.hermanus@gmail.com

Ek is op die oomblik besig om twee werkswinkels te ontwikkel met die oog op die 2017 Nasionale Kwiltfees, een met masjienappliekwerk en nog een met kreatiewe masjienappliekwerk om kwilters touwys te maak om hulle naaldwerkmasjiene se ingeboude dekoratiewe steke en vryhandmasjienborduurwerk te gebruik om hul kwilte te versier.

Ek hoop om jou ook eendag in een van my klasse te sien!

My ateljee

My atlejee is vir my die wonderlikste plek in my huis hier by die see. Lekker ruim, lekker lig, lekker toegerus met alles wat nodig is om my kreatiweit uit te leef. En boonop ideaal om klein werkswinkels in aan te bied.


Driekwart van die ruimte word in beslag geneem deur my lapwerkpassie: pakplek, snytafel, strykplank, werksoppervlaktes met naaldwerkmasjiene en rekenaar.  Daar is twee witgeverfde dennehoutkaste – die bergplek vir my laprykdom. In die laaie, volgens kleurfamilies in ou roomysbakke opgevou, is al my kosbare vetkwarte . Op die rakke is die groter stukke opgevou, ook volgens kleur. Daar is ook reeds-uitgesoekte stapeltjies lappies vir beplande projekte, halfvoltooide projekte, ‘n mandjie met lappies vir die Prinses se kleertjies, roomysbakke met flentertjies lappies (ook volgense kleur) en 'n rak vol kwilte  ‘n Ou, lang seegroen leer is die hangplek vir my beste kwilte.  Opgevou om oor die sporte te pas, hang hulle daar in ‘n rykdom van kleure en lappies.

Een hoek is ingerig vir kuns en knutselary soos skilder, mosaiekwerk, decoupage, ens. – nie dat die lappies my juis kans gee daarvoor nie!  Die lapkinders skree baie harder as die verfkinders.


En daar is, te midde van al bogenoemde, ook ‘n ronde rottangstoel vir jou om op te sit as jy dalk vir my daar sou wou kom kuier…

Woensdag 11 November 2015

Die dag toe my identiteit verander het

Die dag toe my identiteit (en status) verander het, het 'n lang aanloop gehad en kan in drie fases verdeel word. Dis nou bo en behalwe die dag toe ek mevrou Prinsloo geword het 40 jaar gelede). Dit het nagenoeg 11 jaar geneem vir die verandering om plaas te vind. Die kort skematiese voorstelling lyk so:

MA (van hubare dogter) 
                               ----  SKOONMA  (gewillig) 
                                                                ----  OUMA (heeltemal oorstelp)

Fase Een

Dit het begin toe my oudste dogter, Roelene,  met die Kersfeesvakansie in 2004 'n gawe, skamerige jongman saamgebring het Hermanus toe. Dit was Fase Een - die gawe, nie- meer-so-skamerige jongman se vrytyd na my eersgeborene en die Groot Vraag wat aanleiding gegee het tot die volgende fase.



Fase Twee

Die Troue - 14 Februarie 2009 - en ek word 'n skoonma (of "pasella-ma" soos ek graag daaraan dink)


Roelene trou in die rok wat haar ma vir haar gemaak het. 'n Heerlike, informele piekniektroue op die walle van die Vaalrivier. En ons is baie bly oor ons pasella-seun!

Ek maak ook 'n troukwilt vir hulle bed.



En 6 jaar later, nadat ons al moed verloor het, gebeur die wonderwerk wat die volgende fase inlui!

Fase Drie

Die Geboorte van Mia Grace Button - 16 April 2015 - en ek word (uiteindelik) 'n ouma



Daar  kry ek toe uiteindelik die identiteit wat pas by 'n ingeleefde, gryserige, hopelik wyse, volronde vrou - grootmoeder van 'n roosknopprinsessie... En dit pas my soos 'n handskoen! 

My skeppende siel en gewillige naaldwerkmasjien het ook 'n nuwe diensbeskrywing: "In Diens Van Die Prinses"! Volgende keer vertel en wys ek julle meer. Onthou net: oumas hou van spog!  ;)

Dinsdag 10 November 2015

Toe onthou ek van my blog!

Ek kan nie glo ek het Julie 2013 laas na my blog gekyk nie! Die tyd het eenvoudig soos 'n turbo-warrelwind verbygesnel... Nuwe voorneme so teen die einde van die jaar: ek gaan (nee, MOET) tyd maak vir hierdie blog-babatjie!

Van die hoogste hoogtepunte in my lewe sedert ek laas geblog het:

Die geboorte van ons eerste kleinkind, Mia Grace Button, in Johannesburg op 16 April 2015 - ek het nie woorde vir hierdie vreugde nie!




'n Drie-maande lange toer met ons ryhuis, Wielevilla - Johannesburg om na die Krugerwildtuin, Nelspruit, Swaziland, Natal, Oos-Kaap, Tuinroete en Oos-Wes-Tuis-Bes! 



Die 18de Nasionale Kwiltfees in Durban - 2 suksesvolle werkswinkels aangebied en elke oomblik geniet. Al te lekker in een van die Durban kwilters se voortuin gekamp met ons ryhuis - dankie Sue Cameron!

Nou loer die Desembervakansie vir ons om die hoek en moet ek regmaak (en regstaan!) vir die hele familie wat kom kuier - 'n heerlike vooruitsig!

En dan: 2016! En natuurlik my voorneme om nie weer my blog vergeet nie. Wees dus op die uitkyk vir baie nuus oor projekte, idees, lekker ryhuisbelewenisse asook nuus oor Prinses Mia Grace en alles wat haar ouma vir haar maak!