MA (van hubare dogter)
---- SKOONMA (gewillig)
---- OUMA (heeltemal oorstelp)
Fase Een
Dit het begin toe my oudste dogter, Roelene, met die Kersfeesvakansie in 2004 'n gawe, skamerige jongman saamgebring het Hermanus toe. Dit was Fase Een - die gawe, nie- meer-so-skamerige jongman se vrytyd na my eersgeborene en die Groot Vraag wat aanleiding gegee het tot die volgende fase.Fase Twee
Die Troue - 14 Februarie 2009 - en ek word 'n skoonma (of "pasella-ma" soos ek graag daaraan dink)
Roelene trou in die rok wat haar ma vir haar gemaak het. 'n Heerlike, informele piekniektroue op die walle van die Vaalrivier. En ons is baie bly oor ons pasella-seun!
Ek maak ook 'n troukwilt vir hulle bed.
En 6 jaar later, nadat ons al moed verloor het, gebeur die wonderwerk wat die volgende fase inlui!
Fase Drie
Die Geboorte van Mia Grace Button - 16 April 2015 - en ek word (uiteindelik) 'n ouma!
Daar kry ek toe uiteindelik die identiteit wat pas by 'n ingeleefde, gryserige, hopelik wyse, volronde vrou - grootmoeder van 'n roosknopprinsessie... En dit pas my soos 'n handskoen!
My skeppende siel en gewillige naaldwerkmasjien het ook 'n nuwe diensbeskrywing: "In Diens Van Die Prinses"! Volgende keer vertel en wys ek julle meer. Onthou net: oumas hou van spog! ;)
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking