Sondag 15 November 2015

Klasgee - ja graag!

Na my inskrywing van 10 November  het ek besef dat die hele 2014 in beslag geneem was deur die Kwiltonderwys Akkrediteringskursus  van die Suid-Afrikaanse Kwiltersgilde wat ek gedoen het. Ek het die werkstukke en die navorsing wat daarvoor nodig was baie geniet en dit het my tyd en gedagtes goed besig gehou, tot so ‘n mate dat dit eintlik al was wat ek die hele jaar gedoen het. En nou kan ek met ‘n sertifikaat spog wat bevestig dat ek deur die Nasionale Kwiltersgilde geakkrediteer is as kwiltdosent. Ek het dit nog altyd geniet om ander kwilters te help om hulle potensiaal te ontsluit en nuwe tegnieke te leer en nou kan ek dit met vrymoedigheid doen.

Ek is beskikbaar om klas te gee waar ek ook al genooi word. Ek bied tans hoofsaaklik werkswinkels oor kreatiewe masjienappliekwerk aan, asook die benutting van jou naaldwerkmasjien om jou kwilte te versier. 

Voorbeelde van my klasse:








Kontak my gerus as jy in 'n werkswinkel belang stel: kreativa.hermanus@gmail.com

Ek is op die oomblik besig om twee werkswinkels te ontwikkel met die oog op die 2017 Nasionale Kwiltfees, een met masjienappliekwerk en nog een met kreatiewe masjienappliekwerk om kwilters touwys te maak om hulle naaldwerkmasjiene se ingeboude dekoratiewe steke en vryhandmasjienborduurwerk te gebruik om hul kwilte te versier.

Ek hoop om jou ook eendag in een van my klasse te sien!

My ateljee

My atlejee is vir my die wonderlikste plek in my huis hier by die see. Lekker ruim, lekker lig, lekker toegerus met alles wat nodig is om my kreatiweit uit te leef. En boonop ideaal om klein werkswinkels in aan te bied.


Driekwart van die ruimte word in beslag geneem deur my lapwerkpassie: pakplek, snytafel, strykplank, werksoppervlaktes met naaldwerkmasjiene en rekenaar.  Daar is twee witgeverfde dennehoutkaste – die bergplek vir my laprykdom. In die laaie, volgens kleurfamilies in ou roomysbakke opgevou, is al my kosbare vetkwarte . Op die rakke is die groter stukke opgevou, ook volgens kleur. Daar is ook reeds-uitgesoekte stapeltjies lappies vir beplande projekte, halfvoltooide projekte, ‘n mandjie met lappies vir die Prinses se kleertjies, roomysbakke met flentertjies lappies (ook volgense kleur) en 'n rak vol kwilte  ‘n Ou, lang seegroen leer is die hangplek vir my beste kwilte.  Opgevou om oor die sporte te pas, hang hulle daar in ‘n rykdom van kleure en lappies.

Een hoek is ingerig vir kuns en knutselary soos skilder, mosaiekwerk, decoupage, ens. – nie dat die lappies my juis kans gee daarvoor nie!  Die lapkinders skree baie harder as die verfkinders.


En daar is, te midde van al bogenoemde, ook ‘n ronde rottangstoel vir jou om op te sit as jy dalk vir my daar sou wou kom kuier…

Woensdag 11 November 2015

Die dag toe my identiteit verander het

Die dag toe my identiteit (en status) verander het, het 'n lang aanloop gehad en kan in drie fases verdeel word. Dis nou bo en behalwe die dag toe ek mevrou Prinsloo geword het 40 jaar gelede). Dit het nagenoeg 11 jaar geneem vir die verandering om plaas te vind. Die kort skematiese voorstelling lyk so:

MA (van hubare dogter) 
                               ----  SKOONMA  (gewillig) 
                                                                ----  OUMA (heeltemal oorstelp)

Fase Een

Dit het begin toe my oudste dogter, Roelene,  met die Kersfeesvakansie in 2004 'n gawe, skamerige jongman saamgebring het Hermanus toe. Dit was Fase Een - die gawe, nie- meer-so-skamerige jongman se vrytyd na my eersgeborene en die Groot Vraag wat aanleiding gegee het tot die volgende fase.



Fase Twee

Die Troue - 14 Februarie 2009 - en ek word 'n skoonma (of "pasella-ma" soos ek graag daaraan dink)


Roelene trou in die rok wat haar ma vir haar gemaak het. 'n Heerlike, informele piekniektroue op die walle van die Vaalrivier. En ons is baie bly oor ons pasella-seun!

Ek maak ook 'n troukwilt vir hulle bed.



En 6 jaar later, nadat ons al moed verloor het, gebeur die wonderwerk wat die volgende fase inlui!

Fase Drie

Die Geboorte van Mia Grace Button - 16 April 2015 - en ek word (uiteindelik) 'n ouma



Daar  kry ek toe uiteindelik die identiteit wat pas by 'n ingeleefde, gryserige, hopelik wyse, volronde vrou - grootmoeder van 'n roosknopprinsessie... En dit pas my soos 'n handskoen! 

My skeppende siel en gewillige naaldwerkmasjien het ook 'n nuwe diensbeskrywing: "In Diens Van Die Prinses"! Volgende keer vertel en wys ek julle meer. Onthou net: oumas hou van spog!  ;)

Dinsdag 10 November 2015

Toe onthou ek van my blog!

Ek kan nie glo ek het Julie 2013 laas na my blog gekyk nie! Die tyd het eenvoudig soos 'n turbo-warrelwind verbygesnel... Nuwe voorneme so teen die einde van die jaar: ek gaan (nee, MOET) tyd maak vir hierdie blog-babatjie!

Van die hoogste hoogtepunte in my lewe sedert ek laas geblog het:

Die geboorte van ons eerste kleinkind, Mia Grace Button, in Johannesburg op 16 April 2015 - ek het nie woorde vir hierdie vreugde nie!




'n Drie-maande lange toer met ons ryhuis, Wielevilla - Johannesburg om na die Krugerwildtuin, Nelspruit, Swaziland, Natal, Oos-Kaap, Tuinroete en Oos-Wes-Tuis-Bes! 



Die 18de Nasionale Kwiltfees in Durban - 2 suksesvolle werkswinkels aangebied en elke oomblik geniet. Al te lekker in een van die Durban kwilters se voortuin gekamp met ons ryhuis - dankie Sue Cameron!

Nou loer die Desembervakansie vir ons om die hoek en moet ek regmaak (en regstaan!) vir die hele familie wat kom kuier - 'n heerlike vooruitsig!

En dan: 2016! En natuurlik my voorneme om nie weer my blog vergeet nie. Wees dus op die uitkyk vir baie nuus oor projekte, idees, lekker ryhuisbelewenisse asook nuus oor Prinses Mia Grace en alles wat haar ouma vir haar maak!



Woensdag 24 Julie 2013

En wat van die frustrasies?

Ek moet seker ook 'n bietjie skryf van die frustrasies wat met kreatiwiteit gepaardgaan ...

Die dinge - of stoute kabouters? - wat heel bo aan my frustrasielys staan is:

1. Wol of garing wat "koek" - daardie stoute kaboutertjies wat in garingtolle en wolbolle woon en, net sodra mens lekker aan die werk is, ongesiens jou garing of wol hopeloos verknoop en opkoek...




2.  Masjiennaalde wat, net as mens lekker op dreef is en die lap agter die masjienvoetjie uit spoed, met 'n knal wat jou én die naaldwerkmasjien na asem laat snak, afbreek. Die stoute tweelingkabouters wat  hier aan die knoei is, heet "Naat-te-dik" en "Oor-speld-gestik"...



3.  Die onderste spoeletjie van die masjien wat leegraak en jou 10 kilometer (ag goed dan, 10 sentimeter!) garingloos laat stik. Dit is nou weer die kabouter met die bose naam van "Garingvreet" wat sy vingertjies om die spoeletjie gehad het....




4.  Die lood daar binne-in die potlood se houtmagie wat regdeur op afstande van 3 millimeter afgebreek is. Die kabouter "Aflood" maak seker dat 'n skerpmaker net genoeg lood kry om dit tot 'n lekker skerp punt te slyp, maar sodra jy net effens druk op daardie punt plaas om 'n sensitiewe, kreatiewe lyn te trek, knak daardie loodpunt en trek "woerts" 'n weglêstreep oor die papier...

5.  Die telefoon wat lui net sodra jy daardie gedagte so reg uit die skrywersmuse se hart wil neerpen. Daardie kabouter heet "Weg-is-dit" en vryf sy stomp vingertjies tevrede oormekaar as hy sien hoe daardie diep gedagte vervaard padgee...




Nee wat, nou is ek so omgekrap deur die spannetjie stoute kabouters, ek moet eers 'n koppie lekker sterk koffie gaan drink!


Saterdag 13 Julie 2013

Paisley Passie

Ek lê op my maag op die paisley-verekombers wat my ouma vir my gemaak het. Ek is nege jaar oud en my kop is vol drome ... hoewel niemand behalwe ek dit weet nie, is ek een dag die Sterwende Swaan in Die Swanemeer-ballet en die ander dag weer Cleopatra in Egipte. Die paisley-ontwerpies op die verekombers se oortreksel fassineer my eindeloos - party van hulle lyk net soos die fyn veertjies op die Sterwende Swaan se ballet-tutu en ander lyk weer nogal soos die pouveerwaaiers waarmee die slawe Cleopatra koel gewaai het. 

Nou is ek al amper sestig en paisleymotiewe fassineer my nog steeds. 'n Rukkie gelede sit ek en kyk na die mooiste paisleymotiewe op Pinterest en ek wonder: hoekom hulle nie probeer hekel nie? Gewapen met helderkleurige wolle en 'n verskeidenheid hekelpenne vertrek ek op dié nuwe hekelavontuur. Hekel, lostrek, hekel, lostrek, gaan dit totdat ek uiteindelik die paisleyvormpie na my smaak het. Gryp pen en papier en skryf neer wat ek gedoen het. Meegevoer probeer ek nog een en nog een, met variasies op die tema - een kry blaartjies, een kry bobbeltjies... Skryf neer, skryf neer! Daar lê later 'n hele stapeltjie paisleymotiefies langs my.  

Vraag Twee kom staan arms in die sye voor my: wat gaan ek nou met al die paisleys maak? Ek kan sulke mooie maaksels mos nie net in die laai bêre, waar niemand dit kan geniet nie? Oplossing: maak handsakke en kussings met die motiewe daarop vasgewerk! Lekker helderkleurige, uitbundige handsakke en hartkussings!




So is die paisleyhandsak en -kussing dan gebore. Die handsakke kry baie aftrek en het met al die bestellings al 'n klein besigheidjie geword. Die kussingpatroon deel ek graag met enige wolverslaafde hekel-avontuurlike. Speel met kleur en tekstuur en geniet elke oomblik! 


PAISLEYKUSSING 
Ontwerp deur ALYSIA PRINSLOO                               

Moeilikheidsgraad **                                 
     
Afkortings

dies – dieselfde
dsl – dubbelslagsteek
gs – glipsteek
hlb – halwelangbeen
kb – kortbeen
ks – kettingsteek
lb – langbeen
st(e) – steek (steke)
vlg – volgende


Benodigdhede
5 kleure wol en 3,5m hekelpen
of
5 kleure 4-draad katoenbreidraad en 3mm hekelpen


PAISLEY-MOTIEF 1

1ste kleur
Sirkel 1
1        Maak 6 ks-ring.
2        3 ks (= 1ste lb), 23 lb in ring, heg met gs in 3de ks.
Sirkel 2
1   Maak 6 ks-ring.
2   2 ks (= 1ste hlb), 7 hlb in ring, heg met gs in gs-afhegting van sirkel 1, 8 hlb in ring, gs in 2de ks, heg af.
Sirkel 3
1 Maak 6 ks-ring.
2 2 ks, 5 kb in ring, heg met gs in gs-afhegting van sirkel 2,  6 kb in ring, gs in 2de ks, heg af.
(Die 3 sirkels kan ook in 3 verskillende kleure gemaak word, soos op die voorbeeld hieronder)

Vorm nou die paisley rondom die sirkelstring soos volg:
2de kleur
Heg draad in afhegting van sirkel 3.
1 3 ks (= 1 lb) 3 ks, 1 lb in dies sp, 3 ks, 1 kb in 3de kb                                                                                     van sirkel, 3 ks, 1 lb in 2de sirkel in 2de hlb na vashegting van                                                                                   sirkel 2, 3 ks, 1 lb in 4de hlb, 3 ks, 1 lb in sirkel 1 in 3de lb vanaf vashegting van sirkel 2, (3 ks, 1 lb in 3de lb) 7 keer, 3 ks, 1 lb in sirkel 2 in 3de hlb vanaf vashegting van sirkel 1, 3 ks, 1 lb in 4de ks, 3 ks, 1 lb in 4de kb van sirkel 3 vanaf vashegting, 3 ks, gs in 3de lus van 3 ks-spasie, 6 ks, gs in 1ste lb van vorige ry, gs in 3ks spasie.
2 ks, 3 kb in 3ks spasie4 kb in elke 3ks-spasie tot by 6ks-spasie, 3 kb, 3 ks, 3 kb, in dieselfde spasie, gs in 2de ks van begin van ry, heg af.
















3de en 4de kleure
  Heg Kleur 3 in 3 ks-spasie op punt van motief (punt van paisley/pvp), 3 ks, 1 kb in 2de ks na pen,1 kb in vlg 2 ks (nuwe pvp), 1 kb in elke kb van vorige ry tot terug by pvp, 1 kb in regtersy van elk van 1ste 3 ks van pvp , gs in heel eerste kb.
















2   3ks (pvp-ketting), 1 kb in 2de en 3de ks vanaf pen in linkersy van pvp-ketting, 3 kb in vlg 3 ste, slaan 1 st oor, 1 ks in vlg st.
Neem Kleur 4 en trek lus deur st op pen, (moenie kleur 3 afknip nie),1 kb in vlg 2 ste bo-oor draad van kleur 3 (werk hierna deurgaans bo-oor die “passiewe” draad),

Kleur 3: 1 kb  in vlg 2 ste,
Kleur 4: 1 hlb in vlg 2 ste,  Kleur 3: 1 hlb  in vlg 2 ste ,
(Kleur 41 lb in vlg 2 ste, Kleur 3: 1 lb in vlg 2 ste) 4 keer,
(Kleur 41 lb in dies st as laaste lb van Kleur 3, 1 lb in die vlg st,  Kleur 3: 1 lb in dies st as laaste lb van Kleur 3, 1 lb in die vlg st) 3 keer,
Kleur 4: 1 lb in vlg 2 ste, Kleur 3: 1 lb in vlg 2 ste,
(Kleur 4: 1 lb in dies st as laaste lk van Kleur 3, 1 lb in die vlg st,  Kleur 3: 1 lb in dies st as laaste st van Kleur 4, 1 lb in die vlg st) 3 keer,
Kleur 4: 1 lb in vlg 2 ste, Kleur 3: 1 lb in vlg 2 ste,
(Kleur 4: 1 lb in dies st as laaste lb van Kleur 3, 1 lb in die vlg st, Kleur 3: 1 lb in dies st, 1 lb in die vlg st) 3 keer,
Kleur 4: 1 lb in vlg 2 ste,
Kleur 3: 1 lb in dies st as laaste st van Kleur 4, 1 lb in die vlg st,
Kleur 4: 1 lb in dies st as laaste lb van Kleur 3, 1 lb in die vlg st, Kleur 3: 1 lb in dies st, 1 lb in die vlg st
Kleur 4: 1 hlb in die vlg 2 ste,
Kleur 3: 1 hlb in die vlg 2 ste,
Kleur 4: 1 kb in vlg 2 ste,
Kleur 3: 1 kb in vlg 6 ste,1 kb in die vlg 3 ste in die regtersy van die pvp-ketting, gs in die 1ste kb van die begin.
Knip kleur 4 af.



3        Gaan voort met kleur 3 soos volg:
3 ks (pvp-ketting), 1 kb in 2de st vanaf pen in linkersy van pvp-ketting, slaan 1 st oor, 1 kb in vlg 3 ste, slaan 1 st oor, 1 kb in die vlg 24 ste, 2 kb in vlg st, (1 kb in vlg 2 ste, 2 kb in vlg st) 2 keer, 1 kb in die vlg 10 ste, 2 kb in die vlg st, (1 kb in vlg 2 ste, 2 kb in vlg steek) 2 keer, 1 kb in die vlg 22 ste, 2 kb in die vlg st, 1 kb in die vlg 2 ste, 2 kb in die vlg st, 1 kb in die vlg 23 ste, 1 kb in elk van die 2 ste in die regtersy van die pvp-ketting, gs in die punt, heg af.


5de kleur
Heg draad vas in pvp, 2 ks, 1 kb in die vlg 2 ste, slaan 1 st oor, 1 kb in vlg st, slaan 1 st oor, 1 kb in die vlg 3 ste, slaan 1 st oor, 1 kb in die vlg st, (picot [3 ks, 1 gs in 1ste ks], 1 kb in die vlg 4 ste) 30 keer, 1 kb in elke st tot by die punt, gs in 1ste 2 ks-spasie, heg af.


PAISLEY-MOTIEF 2
                                                                                                       
1ste kleur
Maak 6 ks-ring met 1ste kleur.
2 3 ks (= 1ste lb), 15 lb in ring, gs in 3de ks, heg af.

2de kleur
Heg draad aan afhegting.
2 2 ks (= 1 kb), 1 kb in dies spasie, 2 kb in die vlg                                                                                               lb 15 keer, gs in 2de ks van begin.
3 3 ks (= 1 lb),(2 ks, 1 5dsl-poffer, 2 ks, slaan 1 st oor, 2 ks, slaan 1 st oor, 1 lb in vlg st, slaan 1 st oor) 8x, 2ks, glst in 1ste poffer, heg af.
















3de kleur
1 Heg draad aan afhegting, gs in 2ks-spasie, 2 ks (= 1 kb), 2 kb in dies spasie, 3 kb in elke 2ks-spasie, gs in 2de ks van begin van ry, 9 ks vir begin van pvp.
2 Werk in linkersy van pvp-ketting soos volg: 1 kb in 2de ks vanaf pen, 1 kb in die vlg ks, 1 hlb in die vlg 2 ks, 1 lb in die vlg ks, slaan 1 ks oor, 1 lb in vlg 2 ks, 1 dsl in 1ste kb van vorige ry, maar moenie laaste lus deurtrek nie, hou op pen, 1 lb in vlg ks, moenie laaste lus deurtrek nie, hou op pen, 1 hlb in vlg ks, 1 kb in vlg ks en trek lus deur al die ste, (1 kb in vlg 3 kb, 2 kb in 1 kb) 9 keer, 4 kb in vlg 4 ste, 1 hlb in vlg st, 1 lb in vlg st, 1 dsl in vlg st, 1 lb in 1ste 2 ks aan regtersy van pvp-ketting, 2 lb in 3de ks, 3 hlb in vlg 3 ks, 1 kb in vlg 2 ks, gs in 1ste st van ry, heg af.


  













1ste kleur
Heg draad aan afhegting, 3 ks (pvp-ketting), 1 kb in 2de en 3de ks aan linkersy van pvp-ketting, 1 kb vlg 6 ste, slaan 1 st oor, 1 kb in vlg 3 ste,(1 kb in vlg kb van 1ste ry van 3de kleur, 1 kb in elk van vlg 3 ste) 13 keer, 1 kb in elke st tot voor pvp-ketting, 1 kb in elke st van regtersy van pvp-ketting, gs in laaste st van ketting, heg af.


  













4de kleur
Heg draad aan afhegting, 3 ks (pvp-ketting) , 1 kb in 2de en 3de ks aan linkersy van pvp-ketting, 1 kb in vlg 8 ste, slaan 2 st in binnehoek oor, 1 kb in vlg 4 ste, 1 hlb in vlg st,  (1 5dsl-poffer, 2 ks, slaan 1 st oor, 1 lb in vlg st, 2 ks, slaan 1 st oor) 12 keer, 1 5dsl-poffer, slaan 1 st oor, 1 hlb, 1 kb in elke st tot by begin van pvp-ketting, 1 kb in elk van ste aan regtersy van pvp-ketting, gs in laaste st, heg af.
















 2de kleur
Heg draad aan afhegting, 3 ks (pvp-ketting) , 1 kb in 2de en 3de ks aan linkersy van pvp-ketting, 1 kb in vlg 10 ste, slaan 1 st in hoek oor, 1 kb in vlg 5 ste, 3 kb in elke 2ks-spasie, 1 kb in elke st tot by begin van pvp-ketting, 1 kb in elk van ste aan regtersy van pvp-ketting, gs in laaste st, heg af.

















5de kleur
Heg draad aan afhegting, 3 ks(pvp-ketting), 1 kb in 2de en 3de ks aan linkersy van pvp-ketting, (1 kb in vlg st, slaan 1 st oor) 3 keer, 1 kb, slaan 2 ste in hoek oor,  (1 kb in elk van vlg 4 ste, 1 picot) 20 keer, 1 kb in elke st tot by pvp-ketting, 1 kb in elke st aan regtersy van pvp-ketting, gls in laaste st, heg af.

















PAISLEY-MOTIEF 3 (DRIEHOEK)


1ste kleur
1 Maak 6 ks-ring met 1ste kleur.
2 2 ks, (1 5dsl-poffer, 3 ks) 3 keer, gs in 1ste poffer, heg af.

2de kleur
Heg draad aan afhegting, 2 ks, 1 kb in dies st, (5 ks in 3ks-spasie, 1 kb in poffer) 2 keer, 5 st in 3ks-spasie, gs in 2de ks van begin.
2 2 ks, (1 kb in vlg 5 ste, 2 kb in vlg st) 2 keer, 1 kb in vlg 5 ste, gs in 2de ks, heg af.

3de kleur
Heg draad aan afhegting, 3 ks, 1 kb in dies st, (1 kb in vlg 6 ste, 1 kb, 3 ks, 1 kb in vlg st) 2 keer,  6 kb in laaste 6 ste, gs in 1ste ks van begin, heg af.

4de kleur
3 lb-blaartjie: (1 lb, moenie laaste lus van lb deurtrek nie, maar hou op pen) 2 keer, 1 lb, trek laaste lus van die lb deur al 3 ste op pen.
Heg draad in 3 ks-spasie, 3 ks (= 1 lb), 1 2lb-blaartjie in dieselfde st, 3 ks, 1 3lb-blaartjie in dies st, 3 ks, slaan 2 ste oor, (1 3lb-blaartjie in vlg st, 3 ks) 2 keer, 1 3lb-blaartjie in 3 ks-spasie, 3 ks, 1 3lb-blaartjie in dies spasie, 3 ks, slaan 2 ste oor, (1 3lb-blaartjie in vlg st, 3 ks, slaan 2 ste oor) 2 keer, 3 ks, 1 3lb-blaartjie in 3 ks-spasie, 3 ks, 1 3lb blaartjie in dies spasie, 3 ks, slaan 2 st oor,(1 3lb-blaartjie in vlg st, 3 ks, slaan 2 ste oor) 2 keer, gs in 2de ks van 1ste blaartjie, heg af.

5de kleur
Heg draad in 3 ks-spasie, 2 ks, 1 picot, 1 kb in dies spasie, *1 kb in vlg st, 3 kb in  3ks-spasie, 1 kb in vlg st, 1 picot, 3 kb in 3ks-spasie, 1 kb in vl st, 1 picot, 3 kb in 3ks-spasie, 1 kb in vlg st, 1 kb in 3 ks-spasie* herhaal van * tot* nog 2 keer, gs in 1ste ks van begin van ry, heg af.


DIE KUSSINGSLOOP

45 cm stewige effekleurige materiaal vir kussingsloop
30 cm bypassende ritssluiter
bypassende masjiengaring
poliëstervulsel om kussing mee te vul
45 cm ongebleikte linne vir voering

Mate van sloop: 35 cm hoog en 55 cm wyd

Sny 1 vol hart vir die voorkant en 2 halwe harte vir die agterkant van die sloopmateriaal.
Sny 2 vol harte van ongebleikte linne vir die kussing.
Knip die hartpatroon vir die voorkant van die kussingsloop sowel as die agterkant uit die effekleurige materiaal sowel as uit die ongebleikte linne.
Plaas die gehekelde motiewe volgens die patroon bo-op die voorkant van die kussingsloop en werk elke motief met die katoenhekelgaring al om die picotrandjies vas.
Borduur rygsteekkrulle met Franse knopies op die krulpunte rondom die paisleyvorms met die katoenhekelgaring.
Werk die ritssluiter in die 2 halwes van die agterkant van die kussingsloop in. Hou die ritssluiter half oop.
Plaas die twee kante op mekaar en werk vas met ‘n 1 cm naattoelating reg rondom.
Maak knippies met ‘n skerp skêr in die konkawe ronding van die naattoelating  tussen die twee konvekse rondings van die hart.
Dop die kussingsloop na die regte kant en pars liggies.
10 Plaas die twee dele van die ongebleikte linneharte op mekaar en werk vas met ‘n 1 cm naattoelating reg rondom. Onthou om ‘n opening te laat waardeur dit omgedop en gevul kan word.
11 Dop na die regte kant toe om en pars liggies.
12 Vul met die poliëstervulsel en werk die opening met die hand toe.
13 Druk die kussing in die sloop en rits toe.