Woensdag 24 Julie 2013

En wat van die frustrasies?

Ek moet seker ook 'n bietjie skryf van die frustrasies wat met kreatiwiteit gepaardgaan ...

Die dinge - of stoute kabouters? - wat heel bo aan my frustrasielys staan is:

1. Wol of garing wat "koek" - daardie stoute kaboutertjies wat in garingtolle en wolbolle woon en, net sodra mens lekker aan die werk is, ongesiens jou garing of wol hopeloos verknoop en opkoek...




2.  Masjiennaalde wat, net as mens lekker op dreef is en die lap agter die masjienvoetjie uit spoed, met 'n knal wat jou én die naaldwerkmasjien na asem laat snak, afbreek. Die stoute tweelingkabouters wat  hier aan die knoei is, heet "Naat-te-dik" en "Oor-speld-gestik"...



3.  Die onderste spoeletjie van die masjien wat leegraak en jou 10 kilometer (ag goed dan, 10 sentimeter!) garingloos laat stik. Dit is nou weer die kabouter met die bose naam van "Garingvreet" wat sy vingertjies om die spoeletjie gehad het....




4.  Die lood daar binne-in die potlood se houtmagie wat regdeur op afstande van 3 millimeter afgebreek is. Die kabouter "Aflood" maak seker dat 'n skerpmaker net genoeg lood kry om dit tot 'n lekker skerp punt te slyp, maar sodra jy net effens druk op daardie punt plaas om 'n sensitiewe, kreatiewe lyn te trek, knak daardie loodpunt en trek "woerts" 'n weglêstreep oor die papier...

5.  Die telefoon wat lui net sodra jy daardie gedagte so reg uit die skrywersmuse se hart wil neerpen. Daardie kabouter heet "Weg-is-dit" en vryf sy stomp vingertjies tevrede oormekaar as hy sien hoe daardie diep gedagte vervaard padgee...




Nee wat, nou is ek so omgekrap deur die spannetjie stoute kabouters, ek moet eers 'n koppie lekker sterk koffie gaan drink!


1 opmerking: