Woensdag 24 Julie 2013

En wat van die frustrasies?

Ek moet seker ook 'n bietjie skryf van die frustrasies wat met kreatiwiteit gepaardgaan ...

Die dinge - of stoute kabouters? - wat heel bo aan my frustrasielys staan is:

1. Wol of garing wat "koek" - daardie stoute kaboutertjies wat in garingtolle en wolbolle woon en, net sodra mens lekker aan die werk is, ongesiens jou garing of wol hopeloos verknoop en opkoek...




2.  Masjiennaalde wat, net as mens lekker op dreef is en die lap agter die masjienvoetjie uit spoed, met 'n knal wat jou én die naaldwerkmasjien na asem laat snak, afbreek. Die stoute tweelingkabouters wat  hier aan die knoei is, heet "Naat-te-dik" en "Oor-speld-gestik"...



3.  Die onderste spoeletjie van die masjien wat leegraak en jou 10 kilometer (ag goed dan, 10 sentimeter!) garingloos laat stik. Dit is nou weer die kabouter met die bose naam van "Garingvreet" wat sy vingertjies om die spoeletjie gehad het....




4.  Die lood daar binne-in die potlood se houtmagie wat regdeur op afstande van 3 millimeter afgebreek is. Die kabouter "Aflood" maak seker dat 'n skerpmaker net genoeg lood kry om dit tot 'n lekker skerp punt te slyp, maar sodra jy net effens druk op daardie punt plaas om 'n sensitiewe, kreatiewe lyn te trek, knak daardie loodpunt en trek "woerts" 'n weglêstreep oor die papier...

5.  Die telefoon wat lui net sodra jy daardie gedagte so reg uit die skrywersmuse se hart wil neerpen. Daardie kabouter heet "Weg-is-dit" en vryf sy stomp vingertjies tevrede oormekaar as hy sien hoe daardie diep gedagte vervaard padgee...




Nee wat, nou is ek so omgekrap deur die spannetjie stoute kabouters, ek moet eers 'n koppie lekker sterk koffie gaan drink!


Saterdag 13 Julie 2013

Paisley Passie

Ek lê op my maag op die paisley-verekombers wat my ouma vir my gemaak het. Ek is nege jaar oud en my kop is vol drome ... hoewel niemand behalwe ek dit weet nie, is ek een dag die Sterwende Swaan in Die Swanemeer-ballet en die ander dag weer Cleopatra in Egipte. Die paisley-ontwerpies op die verekombers se oortreksel fassineer my eindeloos - party van hulle lyk net soos die fyn veertjies op die Sterwende Swaan se ballet-tutu en ander lyk weer nogal soos die pouveerwaaiers waarmee die slawe Cleopatra koel gewaai het. 

Nou is ek al amper sestig en paisleymotiewe fassineer my nog steeds. 'n Rukkie gelede sit ek en kyk na die mooiste paisleymotiewe op Pinterest en ek wonder: hoekom hulle nie probeer hekel nie? Gewapen met helderkleurige wolle en 'n verskeidenheid hekelpenne vertrek ek op dié nuwe hekelavontuur. Hekel, lostrek, hekel, lostrek, gaan dit totdat ek uiteindelik die paisleyvormpie na my smaak het. Gryp pen en papier en skryf neer wat ek gedoen het. Meegevoer probeer ek nog een en nog een, met variasies op die tema - een kry blaartjies, een kry bobbeltjies... Skryf neer, skryf neer! Daar lê later 'n hele stapeltjie paisleymotiefies langs my.  

Vraag Twee kom staan arms in die sye voor my: wat gaan ek nou met al die paisleys maak? Ek kan sulke mooie maaksels mos nie net in die laai bêre, waar niemand dit kan geniet nie? Oplossing: maak handsakke en kussings met die motiewe daarop vasgewerk! Lekker helderkleurige, uitbundige handsakke en hartkussings!




So is die paisleyhandsak en -kussing dan gebore. Die handsakke kry baie aftrek en het met al die bestellings al 'n klein besigheidjie geword. Die kussingpatroon deel ek graag met enige wolverslaafde hekel-avontuurlike. Speel met kleur en tekstuur en geniet elke oomblik! 


PAISLEYKUSSING 
Ontwerp deur ALYSIA PRINSLOO                               

Moeilikheidsgraad **                                 
     
Afkortings

dies – dieselfde
dsl – dubbelslagsteek
gs – glipsteek
hlb – halwelangbeen
kb – kortbeen
ks – kettingsteek
lb – langbeen
st(e) – steek (steke)
vlg – volgende


Benodigdhede
5 kleure wol en 3,5m hekelpen
of
5 kleure 4-draad katoenbreidraad en 3mm hekelpen


PAISLEY-MOTIEF 1

1ste kleur
Sirkel 1
1        Maak 6 ks-ring.
2        3 ks (= 1ste lb), 23 lb in ring, heg met gs in 3de ks.
Sirkel 2
1   Maak 6 ks-ring.
2   2 ks (= 1ste hlb), 7 hlb in ring, heg met gs in gs-afhegting van sirkel 1, 8 hlb in ring, gs in 2de ks, heg af.
Sirkel 3
1 Maak 6 ks-ring.
2 2 ks, 5 kb in ring, heg met gs in gs-afhegting van sirkel 2,  6 kb in ring, gs in 2de ks, heg af.
(Die 3 sirkels kan ook in 3 verskillende kleure gemaak word, soos op die voorbeeld hieronder)

Vorm nou die paisley rondom die sirkelstring soos volg:
2de kleur
Heg draad in afhegting van sirkel 3.
1 3 ks (= 1 lb) 3 ks, 1 lb in dies sp, 3 ks, 1 kb in 3de kb                                                                                     van sirkel, 3 ks, 1 lb in 2de sirkel in 2de hlb na vashegting van                                                                                   sirkel 2, 3 ks, 1 lb in 4de hlb, 3 ks, 1 lb in sirkel 1 in 3de lb vanaf vashegting van sirkel 2, (3 ks, 1 lb in 3de lb) 7 keer, 3 ks, 1 lb in sirkel 2 in 3de hlb vanaf vashegting van sirkel 1, 3 ks, 1 lb in 4de ks, 3 ks, 1 lb in 4de kb van sirkel 3 vanaf vashegting, 3 ks, gs in 3de lus van 3 ks-spasie, 6 ks, gs in 1ste lb van vorige ry, gs in 3ks spasie.
2 ks, 3 kb in 3ks spasie4 kb in elke 3ks-spasie tot by 6ks-spasie, 3 kb, 3 ks, 3 kb, in dieselfde spasie, gs in 2de ks van begin van ry, heg af.
















3de en 4de kleure
  Heg Kleur 3 in 3 ks-spasie op punt van motief (punt van paisley/pvp), 3 ks, 1 kb in 2de ks na pen,1 kb in vlg 2 ks (nuwe pvp), 1 kb in elke kb van vorige ry tot terug by pvp, 1 kb in regtersy van elk van 1ste 3 ks van pvp , gs in heel eerste kb.
















2   3ks (pvp-ketting), 1 kb in 2de en 3de ks vanaf pen in linkersy van pvp-ketting, 3 kb in vlg 3 ste, slaan 1 st oor, 1 ks in vlg st.
Neem Kleur 4 en trek lus deur st op pen, (moenie kleur 3 afknip nie),1 kb in vlg 2 ste bo-oor draad van kleur 3 (werk hierna deurgaans bo-oor die “passiewe” draad),

Kleur 3: 1 kb  in vlg 2 ste,
Kleur 4: 1 hlb in vlg 2 ste,  Kleur 3: 1 hlb  in vlg 2 ste ,
(Kleur 41 lb in vlg 2 ste, Kleur 3: 1 lb in vlg 2 ste) 4 keer,
(Kleur 41 lb in dies st as laaste lb van Kleur 3, 1 lb in die vlg st,  Kleur 3: 1 lb in dies st as laaste lb van Kleur 3, 1 lb in die vlg st) 3 keer,
Kleur 4: 1 lb in vlg 2 ste, Kleur 3: 1 lb in vlg 2 ste,
(Kleur 4: 1 lb in dies st as laaste lk van Kleur 3, 1 lb in die vlg st,  Kleur 3: 1 lb in dies st as laaste st van Kleur 4, 1 lb in die vlg st) 3 keer,
Kleur 4: 1 lb in vlg 2 ste, Kleur 3: 1 lb in vlg 2 ste,
(Kleur 4: 1 lb in dies st as laaste lb van Kleur 3, 1 lb in die vlg st, Kleur 3: 1 lb in dies st, 1 lb in die vlg st) 3 keer,
Kleur 4: 1 lb in vlg 2 ste,
Kleur 3: 1 lb in dies st as laaste st van Kleur 4, 1 lb in die vlg st,
Kleur 4: 1 lb in dies st as laaste lb van Kleur 3, 1 lb in die vlg st, Kleur 3: 1 lb in dies st, 1 lb in die vlg st
Kleur 4: 1 hlb in die vlg 2 ste,
Kleur 3: 1 hlb in die vlg 2 ste,
Kleur 4: 1 kb in vlg 2 ste,
Kleur 3: 1 kb in vlg 6 ste,1 kb in die vlg 3 ste in die regtersy van die pvp-ketting, gs in die 1ste kb van die begin.
Knip kleur 4 af.



3        Gaan voort met kleur 3 soos volg:
3 ks (pvp-ketting), 1 kb in 2de st vanaf pen in linkersy van pvp-ketting, slaan 1 st oor, 1 kb in vlg 3 ste, slaan 1 st oor, 1 kb in die vlg 24 ste, 2 kb in vlg st, (1 kb in vlg 2 ste, 2 kb in vlg st) 2 keer, 1 kb in die vlg 10 ste, 2 kb in die vlg st, (1 kb in vlg 2 ste, 2 kb in vlg steek) 2 keer, 1 kb in die vlg 22 ste, 2 kb in die vlg st, 1 kb in die vlg 2 ste, 2 kb in die vlg st, 1 kb in die vlg 23 ste, 1 kb in elk van die 2 ste in die regtersy van die pvp-ketting, gs in die punt, heg af.


5de kleur
Heg draad vas in pvp, 2 ks, 1 kb in die vlg 2 ste, slaan 1 st oor, 1 kb in vlg st, slaan 1 st oor, 1 kb in die vlg 3 ste, slaan 1 st oor, 1 kb in die vlg st, (picot [3 ks, 1 gs in 1ste ks], 1 kb in die vlg 4 ste) 30 keer, 1 kb in elke st tot by die punt, gs in 1ste 2 ks-spasie, heg af.


PAISLEY-MOTIEF 2
                                                                                                       
1ste kleur
Maak 6 ks-ring met 1ste kleur.
2 3 ks (= 1ste lb), 15 lb in ring, gs in 3de ks, heg af.

2de kleur
Heg draad aan afhegting.
2 2 ks (= 1 kb), 1 kb in dies spasie, 2 kb in die vlg                                                                                               lb 15 keer, gs in 2de ks van begin.
3 3 ks (= 1 lb),(2 ks, 1 5dsl-poffer, 2 ks, slaan 1 st oor, 2 ks, slaan 1 st oor, 1 lb in vlg st, slaan 1 st oor) 8x, 2ks, glst in 1ste poffer, heg af.
















3de kleur
1 Heg draad aan afhegting, gs in 2ks-spasie, 2 ks (= 1 kb), 2 kb in dies spasie, 3 kb in elke 2ks-spasie, gs in 2de ks van begin van ry, 9 ks vir begin van pvp.
2 Werk in linkersy van pvp-ketting soos volg: 1 kb in 2de ks vanaf pen, 1 kb in die vlg ks, 1 hlb in die vlg 2 ks, 1 lb in die vlg ks, slaan 1 ks oor, 1 lb in vlg 2 ks, 1 dsl in 1ste kb van vorige ry, maar moenie laaste lus deurtrek nie, hou op pen, 1 lb in vlg ks, moenie laaste lus deurtrek nie, hou op pen, 1 hlb in vlg ks, 1 kb in vlg ks en trek lus deur al die ste, (1 kb in vlg 3 kb, 2 kb in 1 kb) 9 keer, 4 kb in vlg 4 ste, 1 hlb in vlg st, 1 lb in vlg st, 1 dsl in vlg st, 1 lb in 1ste 2 ks aan regtersy van pvp-ketting, 2 lb in 3de ks, 3 hlb in vlg 3 ks, 1 kb in vlg 2 ks, gs in 1ste st van ry, heg af.


  













1ste kleur
Heg draad aan afhegting, 3 ks (pvp-ketting), 1 kb in 2de en 3de ks aan linkersy van pvp-ketting, 1 kb vlg 6 ste, slaan 1 st oor, 1 kb in vlg 3 ste,(1 kb in vlg kb van 1ste ry van 3de kleur, 1 kb in elk van vlg 3 ste) 13 keer, 1 kb in elke st tot voor pvp-ketting, 1 kb in elke st van regtersy van pvp-ketting, gs in laaste st van ketting, heg af.


  













4de kleur
Heg draad aan afhegting, 3 ks (pvp-ketting) , 1 kb in 2de en 3de ks aan linkersy van pvp-ketting, 1 kb in vlg 8 ste, slaan 2 st in binnehoek oor, 1 kb in vlg 4 ste, 1 hlb in vlg st,  (1 5dsl-poffer, 2 ks, slaan 1 st oor, 1 lb in vlg st, 2 ks, slaan 1 st oor) 12 keer, 1 5dsl-poffer, slaan 1 st oor, 1 hlb, 1 kb in elke st tot by begin van pvp-ketting, 1 kb in elk van ste aan regtersy van pvp-ketting, gs in laaste st, heg af.
















 2de kleur
Heg draad aan afhegting, 3 ks (pvp-ketting) , 1 kb in 2de en 3de ks aan linkersy van pvp-ketting, 1 kb in vlg 10 ste, slaan 1 st in hoek oor, 1 kb in vlg 5 ste, 3 kb in elke 2ks-spasie, 1 kb in elke st tot by begin van pvp-ketting, 1 kb in elk van ste aan regtersy van pvp-ketting, gs in laaste st, heg af.

















5de kleur
Heg draad aan afhegting, 3 ks(pvp-ketting), 1 kb in 2de en 3de ks aan linkersy van pvp-ketting, (1 kb in vlg st, slaan 1 st oor) 3 keer, 1 kb, slaan 2 ste in hoek oor,  (1 kb in elk van vlg 4 ste, 1 picot) 20 keer, 1 kb in elke st tot by pvp-ketting, 1 kb in elke st aan regtersy van pvp-ketting, gls in laaste st, heg af.

















PAISLEY-MOTIEF 3 (DRIEHOEK)


1ste kleur
1 Maak 6 ks-ring met 1ste kleur.
2 2 ks, (1 5dsl-poffer, 3 ks) 3 keer, gs in 1ste poffer, heg af.

2de kleur
Heg draad aan afhegting, 2 ks, 1 kb in dies st, (5 ks in 3ks-spasie, 1 kb in poffer) 2 keer, 5 st in 3ks-spasie, gs in 2de ks van begin.
2 2 ks, (1 kb in vlg 5 ste, 2 kb in vlg st) 2 keer, 1 kb in vlg 5 ste, gs in 2de ks, heg af.

3de kleur
Heg draad aan afhegting, 3 ks, 1 kb in dies st, (1 kb in vlg 6 ste, 1 kb, 3 ks, 1 kb in vlg st) 2 keer,  6 kb in laaste 6 ste, gs in 1ste ks van begin, heg af.

4de kleur
3 lb-blaartjie: (1 lb, moenie laaste lus van lb deurtrek nie, maar hou op pen) 2 keer, 1 lb, trek laaste lus van die lb deur al 3 ste op pen.
Heg draad in 3 ks-spasie, 3 ks (= 1 lb), 1 2lb-blaartjie in dieselfde st, 3 ks, 1 3lb-blaartjie in dies st, 3 ks, slaan 2 ste oor, (1 3lb-blaartjie in vlg st, 3 ks) 2 keer, 1 3lb-blaartjie in 3 ks-spasie, 3 ks, 1 3lb-blaartjie in dies spasie, 3 ks, slaan 2 ste oor, (1 3lb-blaartjie in vlg st, 3 ks, slaan 2 ste oor) 2 keer, 3 ks, 1 3lb-blaartjie in 3 ks-spasie, 3 ks, 1 3lb blaartjie in dies spasie, 3 ks, slaan 2 st oor,(1 3lb-blaartjie in vlg st, 3 ks, slaan 2 ste oor) 2 keer, gs in 2de ks van 1ste blaartjie, heg af.

5de kleur
Heg draad in 3 ks-spasie, 2 ks, 1 picot, 1 kb in dies spasie, *1 kb in vlg st, 3 kb in  3ks-spasie, 1 kb in vlg st, 1 picot, 3 kb in 3ks-spasie, 1 kb in vl st, 1 picot, 3 kb in 3ks-spasie, 1 kb in vlg st, 1 kb in 3 ks-spasie* herhaal van * tot* nog 2 keer, gs in 1ste ks van begin van ry, heg af.


DIE KUSSINGSLOOP

45 cm stewige effekleurige materiaal vir kussingsloop
30 cm bypassende ritssluiter
bypassende masjiengaring
poliëstervulsel om kussing mee te vul
45 cm ongebleikte linne vir voering

Mate van sloop: 35 cm hoog en 55 cm wyd

Sny 1 vol hart vir die voorkant en 2 halwe harte vir die agterkant van die sloopmateriaal.
Sny 2 vol harte van ongebleikte linne vir die kussing.
Knip die hartpatroon vir die voorkant van die kussingsloop sowel as die agterkant uit die effekleurige materiaal sowel as uit die ongebleikte linne.
Plaas die gehekelde motiewe volgens die patroon bo-op die voorkant van die kussingsloop en werk elke motief met die katoenhekelgaring al om die picotrandjies vas.
Borduur rygsteekkrulle met Franse knopies op die krulpunte rondom die paisleyvorms met die katoenhekelgaring.
Werk die ritssluiter in die 2 halwes van die agterkant van die kussingsloop in. Hou die ritssluiter half oop.
Plaas die twee kante op mekaar en werk vas met ‘n 1 cm naattoelating reg rondom.
Maak knippies met ‘n skerp skêr in die konkawe ronding van die naattoelating  tussen die twee konvekse rondings van die hart.
Dop die kussingsloop na die regte kant en pars liggies.
10 Plaas die twee dele van die ongebleikte linneharte op mekaar en werk vas met ‘n 1 cm naattoelating reg rondom. Onthou om ‘n opening te laat waardeur dit omgedop en gevul kan word.
11 Dop na die regte kant toe om en pars liggies.
12 Vul met die poliëstervulsel en werk die opening met die hand toe.
13 Druk die kussing in die sloop en rits toe.

Sondag 07 Julie 2013

Lapoordenking






Dol oor lap - dollaslap!


Ek drentel deur die rakke van die materiaalwinkel. Die rolle materiaal gryp na my en verlei my om nader kennis te maak. Kort-kort bly ek staan om eers aan 'n rol materiaal te vat. My lapkykoë sit nie net in my kop nie, maar gewis ook in my vingers; elke stuk lap stuur sy eie geheime boodskappe al met my vingers langs op tot in die plek in my kop wat gemerk is met die opskrif "lapsensasie". Daar, in dié besondere kronkel grysstof, gaan selle aan die juig en klap hulle hande uitbundig. Of gooi hul hande omhoog en gril teatraal.

Van voordat ek mooi kan onthou, het ek al hierdie passievolle verhouding met lap gehad. My ma vertel dat ek so te sê onlosmaaklik verbind was aan die satynrandafwerking van my babakombersie. Ek het glo die satynrand heen en weer onder my neus gevryf totdat ek salig aan die slaap geraak het. Later was die kombersie al vodde en moes sy die satynrand aftorring sodat ek dit kon behou as my eie besondere kalmeermiddel en bron van saligheid.

Materiaal is al vir eeue lank die "skering en inslag" van die mens se lewe. Aanvanklik bloot funksioneel as beskerming teen die aanslae van vyand en koue, maar ek glo dat die skeppendes en kunstiges onder die antieke mense baie gou die estetiese potensiaal van hulle weefsels raakgesien het. En baie later het die industrieële rewolusie massavervaardiging moontlik gemaak en het materiaal inderdaad die onontbeerlike weefsel van die beskawing geword.

My ma, my ouma sowel as my tannie was bedrewe naaldwerksters. Hulle het al hulle klere self gemaak en aan oorskietlappies was daar nooit 'n tekort nie. As kleuter het ek ouma se oorskietlappies afgebedel en in 'n groter stuk oorskietmateriaal bymekaargebind. Dit was, naas my repie satynsaligheid, glo my kosbaarste besitting. Volgens latere oorvertellling (geamuseerd deur my ma) wou Ouma eendag 'n flenter oorskietlappie uit my bondel hê om 'm skeurtjie in haar rok mee reg te maak, waarop ek met groot ontsteltenis gereageer het dat ek "juis so min het en nou wil sy ook nog daarvan hê!"

Dit is dan ook seker geen wonder dat ek in die bodemlose vangkuil van laslapwerk en alles wat daarmee gepaardgaan beland het nie... Eerstens maak ek met  passie leë roomysbakke bymekaar om my lappies in te bêre. My laplekkertes word volgens kleure in die roomysbakke gebêre – rooie, wynrooie, oranjes, gele, groene, turkooise, bloue, bruine, ens.  Maar die belangrikste: ek maak laslapmateriaal bymekaar met nog meer passie en as ek daarvan moet opsny om blokke vir 'n kwilt te las, voel dit vir my ek sny een van my kinders op. Om net eers deur daardie grens te breek, vra vasberadenheid en 'n doelbewuste onderdrukking van my emosionele verbintenis met my kosbare lappies. Dan begin die meet en pas: nie 'n millimeter mag vermors of onnodig gesny word nie! En elke stukkie wat groter as drie sentimeter vierkant is, word sorgvuldig in 'n leë roomysbak gebêre vir latere gebruik.

Soms maak ek my lappieskas oop sommer net om na my kosbare lappies te kyk en en daaroor te streel. Ek verneem na hulle welstand en koester hulle met teerheid. Ek verlustig my in die verskeidenheid kleure en heerlike ontwerpe wat daarop gedruk is.

Dan is daar nog my lapkratte. In een (ag goed dan, eintlik vier – of is dit dalk al vyf?) bêre ek oorskiet roksmateriaal, van katoen tot sy en satyn, kant en fluweel. In 'n ander paar kratte woon stukke gordyn- en bekleedsellap – wie weet wanneer ek dit dalk nodig mag kry? En moenie vir my 'n stukkie kom vra nie, ek het reeds so min!

My lapopgaardery is iets wat my dierbare man (intelligent soos hy is) nie kan verstaan nie. Hy skud net sy kop meewarig en in sy oë bespeur ek amper iets soos bejammering. Maar elke stukkie lap kry wel die een of ander tyd 'n werkie – of dit nou is om 'n kussingoortreksel vir 'n stoepstoel of  'n gawe geskenkie vir 'n vriendin te maak. Of sommer net die geleentheid om my hart met sy besondere teenwoordigheid te verbly!

Ek is baie bly dat ek nie na my dood teenwoordig hoef te wees wanneer my dogters oor my lapskat moet besluit nie. My lappe is vir my om te geniet en vir hulle om eendag oor te wroeg!

Donderdag 04 Julie 2013

Wolke en Wolblomtuine

Buite waai die Kaapse wind die wolke dig oor Hermanus, maar hier binne is dit knus, die verwarmer en bokhaarkombers my verweer teen die koue se knyp. Perfekte weer vir wol en penne!
Nadat my briefie in Junie se IDEES se "Jul Idees" gepubliseer is, het ek tot dusver nie minder as sewe bestellings gekry nie! Dankie IDEES!




Nou sit ek met 'n mandjie vol kleurvolle wolle van allerlei teksture en geniet elke skeppende oomblik. 'n Lekker warm beker rooibostee hou die innerlike binneste warm. En die een idee gee geboorte aan die volgende een!

Ek het reeds drie van die bestellings se buitekante voltooi en moet binnekort my Bernina aantree om die voerings te maak. 





Nommer vier se voorkant is klaar en ek verlustig my daarin - sulke lekker kleure, 'n heerlike blomtuin! Nou werk ek aan die agterkant - Afgaanse hekelwerk in gryserige groene.


En terwyl ek so sit en hekel,  bedink  ek al reeds die volgende een, dié keer een in bloue en pienke...




Maandag 01 Julie 2013

Iets oor my lewe en my werk

Vandat ek kan onthou, was ek besig om te teken of te knutsel of stories uit te dink. Ek kon myself ure lank besig hou. My een ouma het my vroeg al leer hekel en wanner die ander dogters op die speelgrond rek gespring of hop scotch gespeel het, het ek gesit en blokkies hekel vir my "granny square"-kombersie. As tiener het ek die "with-itste" gehekelde raffia sandale en hooftooisels gehad (ja, jy raai reg: die hippie-era!)
Op universiteit waar ek kuns ge"swot" het, het ek kleremaak ontdek en (bedenklike) rokkies op my ou Empisal met die hopelose spanning gemaak. Op my 21ste verjaardag gee my ouers vir my 'n splinternuwe Elna naaldwerkmasjien en my naaldwerkvaardighede het vlerke gekry - daar was toe geen keer aan my naaldwerkvlugte nie!
Toe my dogters klein was, het ek vir hulle die mooiste rokkies met appliekwerk gemaak. Toe hulle tieners was, het ek vir hulle moderne tienerklere gemaak en hulle wou geen winkelklere hê nie.
Ek dink met nostalgie terug aan die tagtigerjare in Nelspruit, toe ek en 'n vriendin saam begin klere maak het om te verkoop. Dit was die era van die "country"-rokke met die appliekwerk op die borsie en meters lint en kant onder om die soom. Die aanvraag vir ons skeppings was so groot, dat ons 5 swart vroue as naaldwerksters in diens moes neem om te help met die bestellings.  Die toeloop van klante by ons huise het ons huishoudings en gesinne baie ontwrig en ons het uiteindelik 'n winkeltjie, "So-lisia" begin waar ons ons produkte kon verkoop.
So het die jare van kreatiwiteit verbygevlieg en voor ek my oë kon uitvee, is ek die tevrede vrou van 'n afgetrede man en woon en werk ek rustig voort in die mooie Hermanus. Toe ons hierheen verhuis, het hy grappenderwys vir almal vertel dat ek nou die pot aan die kook sal moet hou met my handwerk. En bykans vier jaar later kan ek dit amper regkry: ek maak handsakke van brei- en hekelwerk en dit verkoop verrassend goed. Ek gee laslapklas, maak kwilts (wat ek nie kan verkoop nie, mens verkoop nie jou kinders nie!), doen masjienborduurwerk en ontwerp (digitize) self borduurpatrone daarvoor, doen handwerkartikels vir 'n vrouetydskrif en skryf kortverhale waarvan daar selfs al 'n paar in 'n tydskrif gepubliseer is. In die (min) ledige oomblikke kuier ek op Pinterest, loer wat doen my vrinne op Facebook, teken "zentangles" (baie verslawend en besonder kalmerend) en miskien, dalk net miskien, kom ek weer by die olieverf, doek en kwasse uit... O ja, in 'n kas in my ateljee wag die mosaiek- en decoupage-goeters ook geduldig vir aandag, wie weet? Ek het voorwaar ten minste twee leeftye nodig!
Wanneer ons met ons ryhuis rondry, gaan die handwerkies saam, of dit nou brei- of hekelwerk, borduurwerk of handappliekwerk is. Manlief skop vas: 'n naaldwerkmasjien neem hy om die dood nie saam in die ryhuis nie! Dus bly my geliefde Bernina bek-af in my ateljee staan wanneer ons die pad vat.

Gebreide blokkekombers -
artikel het in Vrouekeur verskyn


Prettige bont babatruitjie

'n Dollas-onderbaadjie

"Lente-overture op 'n Baltimore Tema"
Prys gewen by Nasionale Kwiltfees 2008

"Aronskelke en Strelitzias"
Tans in Frankryk vir 
'n uitstalling

"Turkse Vreugde 1"
Pryswenner Nasionale Kwiltfees 2004

"Turkse Vreugde 2"
Pryswenner Nasionale Kwiltfees 2011

Gehekelde Paisley-handsak

Handsak met blomme
Brei- en hekelwerk

Groetekaartjie
Ek het op 'n stadium hope hiervan gemaak

  
"Venesiese Lapteëls"
Kreatiewe masjienappliek
Bied werkswinkels aan

"Venesiese Lapteëls"
Kreatiewe masjienappliek
Bied werkswinkels aan

Allerlei items wat ek al in werkswinkels aangebied het.
Lekker geskenkies!