Dol oor lap - dollaslap! |
Ek drentel deur die rakke van die materiaalwinkel. Die rolle
materiaal gryp na my en verlei my om nader kennis te maak. Kort-kort bly ek
staan om eers aan 'n rol materiaal te vat. My lapkykoë sit nie net in my kop
nie, maar gewis ook in my vingers; elke stuk lap stuur sy eie geheime
boodskappe al met my vingers langs op tot in die plek in my kop wat gemerk is
met die opskrif "lapsensasie". Daar, in dié besondere kronkel
grysstof, gaan selle aan die juig en klap hulle hande uitbundig. Of gooi hul
hande omhoog en gril teatraal.
Van voordat ek mooi kan onthou, het ek al hierdie
passievolle verhouding met lap gehad. My ma vertel dat ek so te sê onlosmaaklik
verbind was aan die satynrandafwerking van my babakombersie. Ek het glo die
satynrand heen en weer onder my neus gevryf totdat ek salig aan die slaap
geraak het. Later was die kombersie al vodde en moes sy die satynrand aftorring
sodat ek dit kon behou as my eie besondere kalmeermiddel en bron van saligheid.
Materiaal is al vir eeue lank die "skering en
inslag" van die mens se lewe. Aanvanklik bloot funksioneel as beskerming
teen die aanslae van vyand en koue, maar ek glo dat die skeppendes en kunstiges
onder die antieke mense baie gou die estetiese potensiaal van hulle weefsels
raakgesien het. En baie later het die industrieële rewolusie massavervaardiging
moontlik gemaak en het materiaal inderdaad die onontbeerlike weefsel van die
beskawing geword.
My ma, my ouma sowel as my tannie was bedrewe
naaldwerksters. Hulle het al hulle klere self gemaak en aan oorskietlappies was
daar nooit 'n tekort nie. As kleuter het ek ouma se oorskietlappies afgebedel
en in 'n groter stuk oorskietmateriaal bymekaargebind. Dit was, naas my repie
satynsaligheid, glo my kosbaarste besitting. Volgens latere oorvertellling
(geamuseerd deur my ma) wou Ouma eendag 'n flenter oorskietlappie uit my bondel
hê om 'm skeurtjie in haar rok mee reg te maak, waarop ek met groot
ontsteltenis gereageer het dat ek "juis so min het en nou wil sy ook nog
daarvan hê!"
Dit is dan ook seker geen wonder dat ek in die bodemlose
vangkuil van laslapwerk en alles wat daarmee gepaardgaan beland het nie... Eerstens
maak ek met passie leë roomysbakke
bymekaar om my lappies in te bêre. My laplekkertes word volgens kleure in die
roomysbakke gebêre – rooie, wynrooie, oranjes, gele, groene, turkooise, bloue,
bruine, ens. Maar die belangrikste: ek
maak laslapmateriaal bymekaar met nog meer passie en as ek daarvan moet opsny
om blokke vir 'n kwilt te las, voel dit vir my ek sny een van my kinders op. Om
net eers deur daardie grens te breek, vra vasberadenheid en 'n doelbewuste
onderdrukking van my emosionele verbintenis met my kosbare lappies. Dan begin
die meet en pas: nie 'n millimeter mag vermors of onnodig gesny word nie! En elke
stukkie wat groter as drie sentimeter vierkant is, word sorgvuldig in 'n leë
roomysbak gebêre vir latere gebruik.
Soms maak ek my lappieskas oop sommer net om na my kosbare
lappies te kyk en en daaroor te streel. Ek verneem na hulle welstand en koester
hulle met teerheid. Ek verlustig my in die verskeidenheid kleure en heerlike
ontwerpe wat daarop gedruk is.
Dan is daar nog my lapkratte. In een (ag goed dan, eintlik
vier – of is dit dalk al vyf?) bêre ek oorskiet roksmateriaal, van katoen tot
sy en satyn, kant en fluweel. In 'n ander paar kratte woon stukke gordyn- en
bekleedsellap – wie weet wanneer ek dit dalk nodig mag kry? En moenie vir my 'n
stukkie kom vra nie, ek het reeds so min!
My lapopgaardery is iets wat my dierbare man (intelligent
soos hy is) nie kan verstaan nie. Hy skud net sy kop meewarig en in sy oë
bespeur ek amper iets soos bejammering. Maar elke stukkie lap kry wel die een
of ander tyd 'n werkie – of dit nou is om 'n kussingoortreksel vir 'n
stoepstoel of 'n gawe geskenkie vir 'n
vriendin te maak. Of sommer net die geleentheid om my hart met sy besondere
teenwoordigheid te verbly!
Ek is baie bly dat ek nie na my dood teenwoordig hoef te
wees wanneer my dogters oor my lapskat moet besluit nie. My lappe is vir my om
te geniet en vir hulle om eendag oor te wroeg!
Ai, Alysia, hierdie het ek nou regtig geniet. Ek wens ek kon jou reenboog roomysbakke sien...
AntwoordVee uitElizbe