Op universiteit waar ek kuns ge"swot" het, het ek kleremaak ontdek en (bedenklike) rokkies op my ou Empisal met die hopelose spanning gemaak. Op my 21ste verjaardag gee my ouers vir my 'n splinternuwe Elna naaldwerkmasjien en my naaldwerkvaardighede het vlerke gekry - daar was toe geen keer aan my naaldwerkvlugte nie!
Toe my dogters klein was, het ek vir hulle die mooiste rokkies met appliekwerk gemaak. Toe hulle tieners was, het ek vir hulle moderne tienerklere gemaak en hulle wou geen winkelklere hê nie.
Ek dink met nostalgie terug aan die tagtigerjare in Nelspruit, toe ek en 'n vriendin saam begin klere maak het om te verkoop. Dit was die era van die "country"-rokke met die appliekwerk op die borsie en meters lint en kant onder om die soom. Die aanvraag vir ons skeppings was so groot, dat ons 5 swart vroue as naaldwerksters in diens moes neem om te help met die bestellings. Die toeloop van klante by ons huise het ons huishoudings en gesinne baie ontwrig en ons het uiteindelik 'n winkeltjie, "So-lisia" begin waar ons ons produkte kon verkoop.
So het die jare van kreatiwiteit verbygevlieg en voor ek my oë kon uitvee, is ek die tevrede vrou van 'n afgetrede man en woon en werk ek rustig voort in die mooie Hermanus. Toe ons hierheen verhuis, het hy grappenderwys vir almal vertel dat ek nou die pot aan die kook sal moet hou met my handwerk. En bykans vier jaar later kan ek dit amper regkry: ek maak handsakke van brei- en hekelwerk en dit verkoop verrassend goed. Ek gee laslapklas, maak kwilts (wat ek nie kan verkoop nie, mens verkoop nie jou kinders nie!), doen masjienborduurwerk en ontwerp (digitize) self borduurpatrone daarvoor, doen handwerkartikels vir 'n vrouetydskrif en skryf kortverhale waarvan daar selfs al 'n paar in 'n tydskrif gepubliseer is. In die (min) ledige oomblikke kuier ek op Pinterest, loer wat doen my vrinne op Facebook, teken "zentangles" (baie verslawend en besonder kalmerend) en miskien, dalk net miskien, kom ek weer by die olieverf, doek en kwasse uit... O ja, in 'n kas in my ateljee wag die mosaiek- en decoupage-goeters ook geduldig vir aandag, wie weet? Ek het voorwaar ten minste twee leeftye nodig!
Wanneer ons met ons ryhuis rondry, gaan die handwerkies saam, of dit nou brei- of hekelwerk, borduurwerk of handappliekwerk is. Manlief skop vas: 'n naaldwerkmasjien neem hy om die dood nie saam in die ryhuis nie! Dus bly my geliefde Bernina bek-af in my ateljee staan wanneer ons die pad vat.
Gebreide blokkekombers - artikel het in Vrouekeur verskyn |
Prettige bont babatruitjie |
'n Dollas-onderbaadjie |
"Lente-overture op 'n Baltimore Tema" Prys gewen by Nasionale Kwiltfees 2008 |
"Aronskelke en Strelitzias" Tans in Frankryk vir 'n uitstalling |
"Turkse Vreugde 1" Pryswenner Nasionale Kwiltfees 2004 |
"Turkse Vreugde 2" Pryswenner Nasionale Kwiltfees 2011 |
Gehekelde Paisley-handsak |
Handsak met blomme Brei- en hekelwerk |
Groetekaartjie Ek het op 'n stadium hope hiervan gemaak |
"Venesiese Lapteëls" Kreatiewe masjienappliek Bied werkswinkels aan |
"Venesiese Lapteëls" Kreatiewe masjienappliek Bied werkswinkels aan |
Allerlei items wat ek al in werkswinkels aangebied het. Lekker geskenkies! |
Ek's so bly om hierdie blog se geboorte waar te neem!
AntwoordVee uitVerseker! Net soos al jou ander kreatiewe werk, is jou skryfwerk definitief nog 'n wenner.
Vee uitEk is baie trots op jou my skoonsussie! Jy is 'n voorbeeld met hope talent, hou so aan!
AntwoordVee uit